Chris Lamprecht

image001Christian Engelbertus Lamprecht is op 1 Oktober 1927 in Bloemfontein gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Sentraal en behaal in 1948 die graad B. Mus aan die Universiteit van Stellenbosch.  Hy verwerf sy Voordraerslisensiate in klavier, orrel en sang aan aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Tydens sy studietyd oorsee het hy aanvanklik in Wenen orrel- en sanglesse gehad en repetisies van die Weense Seunskoor bygewoon.

Hy spesialiseer in kerkmusiek aan die Westfälische Kirchenmusikschule in Herford, Duitsland, asook in komposisie, koorleiding en sang. Gedurende dié tydperk, publiseer hy sy eerste orrelkoraalvoorspele Gaan Deur Sy Poorte (Dertien koraalvoorspele vir orrel, 1955) in Duitsland.

’n Groot aantal van sy orrelkoraalvoorspele is in 2010 in die bundel God het ek Lief gepubliseer. Ander orrelkoraalvoorspele is in verskillende bundels van die Suid-Afrikaanse Kerkorreliste Vereeniging opgeneem.

Hy behaal die graad M. Mus in 1973 aan die Universiteit van Pretoria. Die verhandeling was ’n komposisie genaamd Boerefeeskantate vir orkes, koor en konsertina.

Gedurende sy lang en vol loopbaan was hy o.m. Direkteur van die Kerkmusiekskool van die NG Kerk wat later by die Musiekdepartement van die Universiteit van Pretoria ingeskakel is, en waar hy ook senior orreldosent was; Hoofkultuurbeampte vir musiek in die Departement Nasionale Opvoeding; Direkteur: Kultuurburo aan die Universiteit van Pretoria; Hoof van die Musiekdepartement, Universiteit Pretoria; en Orrelis by verskeie NG gemeentes.

As musikoloog lewer hy ’n groot bydrae op die gebied van die Afrikaanse volksmusiek. As deel van sy pligte in die Departement Kultuursake deurkruis hy Suid-Afrika en Namibië en teken ’n verrassende aantal (ongeveer 800) Afrikaanse volksmelodieë op. Hiervan word 250 in sy verwerkte vorm met kitaarbegeleiding deur die SAUK opgeneem en uitgesaai in die programreeks Dit Kom Van Ver Af (1970 – 1975).

In die FAK sangbundel van 1979 verskyn 52 verwerkings van volksliedjies en twee nuwe komposisies van hom. In Unisa se eksamenbundels vir die graadeksamens (1979) is heelparty van sy klavierstukke ingesluit.

Naas sy ywerige belangstelling in Afrikaanse volksmusiek, is kerkmusiek, veral Afrikaanse kerkmusiek, vir hom van die allergrootste belang. Daarvan getuig sy betrokkenheid oor meer as vier dekades as orrelis, koorleier, komponis en verwerker. Sy toonsetting van die Geloofsbelydenis word veral in die NG Kerk Universiteitsoord, waar hy vir 26 jaar orrelis was, as integrale deel van die liturgie gesing.

Ná sy aftrede as hoof van UP se musiekdepartement in 1987 gaan hy voort met sy skeppingswerk en lê hy hom veral toe op komposisie en verwerkings.

Vanaf sy eerste publikasie, die bekende Blou Boekie, Wie het ek buiten U in 1960, tot sy latere groter werke ná sy aftrede, getuig van sy toewyding en liefde vir kerkmusiek. Immanuel, Golgota, Rabboeni en Emmaus gaan onderskeidelik oor die geboorte, kruisiging en opstanding van Jesus. Emmaus is o.a. bekroon as die beste koorkomposisie vir die ATKV Applous Kompetisie in 2015.

Verskeie toekennings word oor die jare aan hom toegeken, waarvan hy die mees onlangse Andrew Murray FAK prys vir gewyde musiek in 2016 ontvang.

Sy lewenstaak was om toeganklike musiek te skrywe vir sy kerk en sy eie mense, deur die gawe wat hy van die Here ontvang het.

Klik hier vir Chris Lamprecht-verwerkings